ʼn Vrou na God se hart

on
  • Font size: Larger Smaller
  • Print

Die 70-jarige tannie Johanna Swart is ʼn inspirasie vir haar gemeenskap. Sy bedryf ʼn kleuterskool en sopkombuis in ʼn informele nedersetting net buitekant Kaapstad.

Ons sit op twee plastiekstoele voor haar nederige rooi baksteenhuis. “Meisie, bring ʼn bietjie water, ons het gaste,” roep sy en beduie met haar hande – krom en opgeswel van die artritis – na een van die helpers by die kleuterskool. “Die lewe het al draaie met my geloop my kind,” sê sy asof sy my gedagtes kan lees, “maar die Here is ongelooflik goed vir my”.

Haar man het destyds sy werk verloor toe die klerefabriek waar hy werksaam was, gesluit het. “Toe gooi hy my weg en vat die pad dat ek alleen na ons kind moes kyk.” Dinge het moeilik gegaan omdat haar seun nie die egskeiding wou aanvaar nie. “Johnny was kwaad vir sy pa wat weggeloop het ... kwaad vir die wêreld. Hy’t uitgesak op skool en wou na niemand luister nie.” Sy vertel hoe haar seun begin dwelms gebruik het; eers dagga en later tik. “Ek het alles probeer. Dan gaan dit ʼn ruk goed en dan val hy weer terug.” Totdat ʼn moeder se grootste vrees waar geword het – haar seun is doodgeskiet in ʼn bakleiery ʼn paar strate van haar huis af. “As dit nie was dat die Vader my gedra het nie, sou ek dit nie gemaak het nie,” bieg sy, die trane vlak in haar oë.

Tannie Johanna getuig hoe die kerk uitgereik het na haar en hoe haar geloof juis in hierdie swaar tye verdiep en versterk het: “Daar was susters in die kerk wat my daagliks in hulle gebede aan die goeie Vader opgedra het, wat geluister het na my pyn en wat saam met my gehuil het.” Op hierdie laagtepunt in haar lewe – as arm weduwee wat haar kind verloor het – het die Here die droom in haar hart gelê om haar eie kleuterskool te begin. Om ʼn bediening van omgee en drukkies te begin – al was daar nie fondse nie en al het sy nie formele opleiding gehad nie.

Terwyl ons so gesels hoor mens die uitbundige gelag en gespeel van die meer as vyftig kindertjies wat elke weeksdag na tannie Johanna se kleuterskool, Little Miracles, toe kom. Danksy die betrokkenheid van plaaslike gemeentes kry elke kind daagliks twee voedsame etes. Vir meeste van hulle is dit die enigste kos wat hulle kry. Tannie Johanna roep een van die seuntjies nader en tel hom op haar skoot: “Ons lees elke dag vir die kinders Bybelstories, sing geestelike liedjies saam en ons vertel hulle dat Jesus baie, baie lief is vir hulle.” Die seuntjie glimlag breed – al lyk die geboue op die perseel afgeleef, is dit duidelik dat die kinders hier nie gebrek ly aan liefde en aandag nie. Sy vertel trots van die opvoedkundige programme wat sy implementeer en hoe belangrik ʼn kleuterskool is vir ʼn kind se sukses op skool en later as volwassene. “Opvoeding help dat die kinders nie op straat eindig nie, dat hulle nie vasgevang word in drank en dwelms en bendes nie; dat hulle die potensiaal en gawes wat die Here vir hulle gegee het, ten volle kan bereik.” Tannie Johanna se praatjies oor opvoeding is nie net leë woorde nie; alhoewel sy weens omstandighede vroeg uit die skool is, het sy op 63-jarige ouderdom haar matrieksertifikaat ontvang.

Na ons gesprek dring tannie Johanna aan om saam te stap tot by my motor om vir my ʼn gebed te doen. In my hart bid ek saam: “Dankie Here vir hierdie merkwaardige vrou en vir die genesing wat u deur haar gebrokenheid bring.”

Last modified on

Comments

Christian Literature Fund
Copyright © CLF 2018 |  Website by: GHYD